Saturday, 9 April 2016

Die grusame verhaal van Jan Prinsloo se Kloof



Jan Prinsloo se Kloof is ‘n weggesteekte stuk aarde in die Gamtoosriviervallei in die Oos-Kaap. Hierdie klein kloof is meer as 10 km van die naaste pad af en kan slegs deur ‘n rowwe, gevaarlike bergpas bereik word. Die kloof is sedert die 1860′s onbewoon, maar die ruïnes van die groot plaashuis en perdestalle staan steeds as herinnering van die ysingwekkende gebeure wat hier plaasgevind het.

Die storie loop as volg … in September 1860 het ‘n jong Engelse setlaar met die naam Stephen Goodrick by die kloof aangekom. Hy het Van der Meulen se plaas aangeskaf teen ‘n spotgoedkoop prys en kon nie sy gelukslag glo nie. Van der Meulen het verduidelik dat hy ‘n plaas in die Transvaal aangebied is, maar binnekort sou die jong Engelsman regtig verstaan waarom dié pragtige plaas en sy vrugbare grond so goedkoop was.

Die plaas het oorspronklik aan ‘n man met die naam Jan Prinsloo behoort, hy het selfs die kloof na homself vernoem. Hy het bekend gestaan as ‘n wrede, gevoellose man. Hy het geen familie gehad nie, en sy enigste vriende was boewe wat van tyd tot tyd kom wegkruip het op die plaas. Prinsloo het sy plaaswerkers soos gemors behandel en dit sou uiteindelik tot sy ondergang lei … Hy het eendag teruggekeer na sy plaas toe, en verneem dat 2 van die vrouens wat by hom werk hul kinders geneem het om besoek af te lê aan ‘n siek familielid in ‘n nabygeleë dorpie. Prinsloo was so ontsteld dat hulle sonder sy toestemming gegaan het, dat hy hulle mans vasgebind het, en met ‘n sambok geslaan het tot hulle nie meer kon loop nie. Daarna het hy die mans se vrouens aan die bome in die binnehof vasgebind en hulle ook met ‘n sambok beetgekry. Toe die kinders begin huil het hy hulle geskiet sonder om te skroom.

Na hierdie wreedhede het Prinsloo, soos gewoonlik, troos in ‘n bottel brandewyn gevind. Deur die loop van die aand besef Jan Prinsloo die werf is heeltemal te stil; elke liewe een van sy slawe het die plaas verlaat en hulle het Prinsloo se perde ook saamgeneem. Prinsloo het toe besluit om ook die pad te vat, voordat die slawe terugkeer om wraak te neem, maar dit was te laat. Sewe slawekrygers het op hom toegesak en hom op só grusame wyse vermoor en onthoof dat ek dit eerder nie hier sal noem nie.

Die absolute gewelddadigheid van daardie aand het die plaas ewig bygebly, en elke aand op die 15de Januarie speel die toneel weer af. Menige boer het sedertdien die plaas probeer bewoon, maar Godrick was die laaste een. Toe hy en sy gesin die herhaling van Prinsloo se gruweldood daardie aand aanskou, het hulle ook so gou as moontlik die plaas verlaat, en tot vandag toe nog is die plaas onbewoon en het die spoke nog nie rus gevind nie.

No comments: