
Soos julle weet het al my bang hare al lankal uitgeval. Ek vrees geen lewende ding op aarde nie. Ongelukkig is spoke nie lewendig nie. Daar is egter heelwat debat rondom hulle bestaan. Ek verkies doodeenvoudig net om nie in hulle bestaan te glo nie. Tot Vrydagaand. . . .
Ek het vir Tinkerbell na afloop van die blogjol by haar huis gaan aflaai. Ek het so effens verdwaal en het op ‘n stadium in die stad gery. Vandaar af kon ek darem Potgieter straat kry, ook maar net betyds. Skielik was elke stukkie lig in die stad dood. So knap na middernag. Nou is ek nie net alleen in die stad op ‘n koue Saterdagoggend nie, maar die enigste lig wat ek sien is die wat my kar maak.
Ek steur my nie veel daaraan nie, dit is seker maar net Eksdom se nonsens. Hulle moes al lankal beurtkrag in die middel van die nag toegepas het. So ry ek maar rustig voort, verby die tronk. Dit is hier waar daar iets baie vreemds gebeur het.
Ek word met ‘n flits van die pad afgetrek. Ek verminder baie teen my sin my spoed, glad nie lus om te stop nie. In die donker, in die koue, buite Pretoria sentraal waar daar al mense tereg gestel is. Die swart polisieman se gesig is in graniet vasgekap, hy sal dit nie waardeer as ek wegry nie. Dus stop ek maar, met my vinger op my nood speeddail. Soos wat hy omstap na my deur, verander hy in gestalte. Skielik is hy in burgerdrag geklee.
Net hier groei al my bang hare weer terug. Ek trek teen die spoed van wit lig weg, of eerder, dit was die plan. Lucy het ook geskrik en sy stol. Een skerp vloek was genoeg om haar van plan te laat verander. Soos my bande nog tol, sien ek deur die kant van my oog iets blinks flits. ‘n Panga. Skielik is ek weer in gr 3, hoor ek weer die tannie van die Polisie Museum ons vertel van die Panga Man. Sy het gesĂȘ dat hy gehang was oor die liefdesreise wat hy in nagmerries laat ontaard het, maar nie een woord van dat hy spook nie.
Ek was al op die snelweg voordat ek omgekyk het. Daar sit hy op my agterste sitplek, met ‘n grynslag, panga omhoog . . .
Ek het eers laat Saterdagmiddag in my kar nog op die snelweg wakker geword. Ek weet nie of wat ek ervaar het die nagevolge van OBS, my verbeelding of ‘n spook is nie. Ek weet net dat daar ‘n hou in my sitplek is waaruit die spons nou peul. En my kar stink . . .
Het julle al sulke vreemde goed oorgekom? Geniet julle spookstories en watter stories kan julle met ons deel? Ek hoop so iets kon nooit ooit weer oor my pad nie.
Blogvraag: Wat doen die spook in Tibbie Visserlaan 13 in Bloemfontein
No comments:
Post a Comment